Monday, 30 December 2013

Wense vir 2014



'n oop hart . spierwit papier . kreatiwiteit . 'n briesie of dit nou koel of warm is . 'n vriendin wat sê, 'bel as jy my nodig het' . wit linne . naweke . die vreugde van musiek . 'n ruskansie . die son op ons rug . 'n stoel vir die tuin . vlerke om mee te vlieg . tyd saam met geliefdes

'n Vreugdevolle en mooi Nuwe Jaar vir jou!

:: 

Sunday, 22 December 2013

'n Geseënde feesseisoen vanaf Gauteng! 2013


Waar jy jou ookal mag bevind hierdie kersseisoen, ek wens almal 'n Geseënde feesseisoen toe saam met julle geliefdes en mag die nuwe jaar net mooi dinge vir jou inhou!


.

Tuesday, 10 December 2013

In die Hoëveld


Die heerlikste plek in ons land om te bly – Gauteng. Of, in die ou taal, die Hoëveld. Ons het die mees matigste (en normale!) klimaat in die hele land, nie te koud in die winter nie en ook nie te warm in die somer nie (met uitsondering van die warm temperature wat ons ‘n paar weke gelede beleef het!)

Ons word amper nooit geteister deur ontstuimige winde soos in die Kaap nie, ons kry min verwoestende oorstromings of verspoelings soos in Mpumulanga, dit sneeu amper nooit soos in Lesotho of die Noord-Kaap nie en, die beste van alles, ons kry reën in die somer! Ek kan my niks erger voorstel as ‘n nat, koue winter nie! 

:: 

In die Hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daar bo
waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
waar ’n mens nog vry kan asemhaal,
staan my huisie wat ek moes verlaat, vir geld!

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom
sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien —
die ylblou bring ’n knop dan in jou keel —
staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
en soek weer in die maanlig al die mooiste plekkies ui
waar ek klei-osse gemaak het as ’n kind.
— Woorde: Toon van den Heever 

::
 

Saturday, 7 December 2013

Groener weivelde

"To exist is to change, to change is to mature, to mature is to go on creating oneself endlessly." 
- Henri Bergson


Dis snaaks hoe 'n mense se smaak verander oor die jare. Wat jou 'n paar maande terug geïnteresseer het, is skielik nie meer so oulik nie. Ek is 'n groot aanhanger van waterverfskildery-blogs, maar skielik is skilders aan wie se kwasse ek letterlik gehang het, vervelig en vaal. Dieselfde ding oor en oor en oor, g'n groei of verandering of verbetering nie. Is dit hulle, of is dit ek?

Ek is definitief 'n liefhebber van my roetine en lief dit as my dag mooi glad verloop, maar ek raak gou ontsteld as dinge vervelig begin raak - my roetine moet elke dag iets nuuts insluit, al is dit net om my koppie koffie te verruil vir 'n warm sjokolade.

Ek lief dit om myself met inspirasie te omring, dis asof ek die lewe inteug daardeur. Maar dis nie altyd 'ander mense' wat te blameer is nie - wanneer jy self groei is dit vanselfsprekend dat dít waarin jy geïnteresseerd is gaan verander, dat jou fokus gaan verskuif en dat jy 'groener weivelde' gaan soek.

.

Tuesday, 3 December 2013

Antiekeware

1950's "Ball & claw" vertoonkas met 'n 1930's "barley twist" potplanthouer langs dit

Gedurende die 1980's het ek 'n voorliefde vir alles oud en antiek ontwikkel. My droom was om in 'n ou "vintage" huis met houtvloere en staalplafonne te woon en ons het amper 'n ou 1890 huis in Krugersdorp-Noord gekoop, maar in daardie dae was dit my nie beskore nie. So ek het gedoen wat enige ander vrou met 'n manie doen, die beste gemaak van 'n slegte saak en my hele (moderne) huis gemeubileer met antiekeware en muurpapier en "vintage" linneware gebruik vir atmosfeer.

My voorliefde was eintlik silwer- en porseleinware, maar selfs 'n 1950's vertoonkas het nie my aandag ontduik nie. Vandag staan dit vol met silwer en porselein wat ek destyds aangeskaf het. Dit "pas" nou nie meer by my huidige dékor nie, wat diep uit Afrika is, maar ek is nog vreeslik lief daarvoor. Oor die jare het ek baie van my aankope verkoop maar 'n paar gunstelinge het agter gebly.


Soos hierdie 1850's Stinkhout Kaapse lessenaar wat nog in uitstekende toestand is. Dit het 'brass' handvatsels op die sewe laaie en die pragtigste antieke patina. Dit is steeds in daaglikse gebruik en is die plekkie waar ek 'n bietjie kreatiwiteit beoefen; groete kaartjies maak en in my joernale skryf. Die lamp is 'n 1920's teleskopiese tafellamp met 'n brons smid (blacksmith) figuur.

Die antiekhandel is wisselvallig. Soos met elke ander ding waarmee ons ons klee en ons huise meubileer, is daar onvoorspelbare modegrille wat onder meer pryse vir bepaalde antieke goedere beïnvloed.

Die redes waarom mense antieke ware koop verskil baie. Mense word byvoorbeeld deur nostalgie gedryf, omdat versamelaars van oudhede daarin 'n manier vind om die verlede terug te roep, om onsterflikheid te koop. Of vir belegging of om iets na te laat vir die nageslag. Dan is daar snobwaarde ook. Die algemene bekendheid van sekere voorwerpe, soos Lalique en Galle-glasware uit die Art Nouveau en Art Deco-tyd, laat jou gaste dadelik verstaan jy is goed daaraan toe.

Hier is 'n paar van my versamelings :

 1820 Walnut side table with fretted gallery and Ormolu insets

Lloyd Loom wasgoed mandjie van die 1920's

'n Koppie en piering vanuit die 1930's (dink ek, geen identifiserende merke nie)

Silwer bottermes vanuit die 1800's

"Chain mail mesh purse" vanaf die Victoriaanse era


'n Versameling snyglas items (cutglass) uitgestal in my gastekamer

Snyglas versameling - 'n sout en peper, mosterd en asyn stelletjie heel agter, regs is 'n parfuumfles en heel voor 'n bakkie vir lekkernye

Middel - 'n Silwer troukoekmes - Sheffield 1921

Een van my vele "mismatched" koppies en pierings, gekoop sommer net oor dit mooi is

::

Saturday, 30 November 2013

Wit rose en souttert


Ek is MAL oor souttert!

Ek lief wat ek hier en hier sien.

Ek lief om hier stories te lees, dis inspirerend, interessant.

Grote griet! Ek wil alles in hierdie Etsy-winkel hê!

Is almal se lewens altyd rooskleurig en mooi? Ek glo nie so nie, myne is nie en ek stem saam met hierdie blogger.

Ek hoop jy geniet hierdie warm somersdag saam met familie en vriende. Moenie bang wees om jouself te wees nie. Moenie bang wees om te sê wat jy dink nie. Glo waarin jy glo en asseblief, doen dit waarvoor jy lief is!

::

Thursday, 28 November 2013

Hou insekte weg met kruie

 (Foto vanaf WikiCommons) 

Laventel is 'n wonderlike plant om in jou tuin te hê. Behalwe die feit dat dit pragtig blom en heerlik ruik, is daar soveel dinge waarvoor dit gebruik kan word. Ek het op hierdie oulike insekweerder resep afgekom van Naomi op suidersterre.co.za

Bestandele
Droë laventel takkies met blommetjies.
Wit asyn.

Metode 
Breek die blommetjies van die laventel takkies af en gooi in `n bottel. Gooi dan genoeg wit asyn in die bottel om die blommetjies toe te maak en die bottel vol te maak. Laat staan eenkant vir twee weke om te trek. (Ek sit sommer van die takkies ook by wanneer ek myne maak.)

Gooi die mengsel deur `n lap om die aftreksel te kry.

Gebruik `n stukkie watte of `n kurk prop om die mengsel op die areas te plaas waar jy die muskiete wil weghou.

Laventel kan ook self opgehang word om insekte weg te hou. (Bind dit vas met 'n mooi pers lint en hang aan jou bed se kopstuk.)

Almal van ons sukkel maar van tyd tot tyd met lastige insekte in en om die huis. Maar om op ’n natuurlike manier van dié plae ontslae te raak, is nog die beste. Ek het op hierdie rate op die internet afgekom so sorg dus dat dié rate altyd byderhand bly:

 Pietersielie

• Sprinkel pepermentolie vir insekte in die huis.
• Gebruik pietersieliesap of gekneusde pietersielieblare om lastige insekte weg te hou.
• Vars óf gedroogde koljander ontmoedig insekte.
• Gedroogde gousblomblare, gemeng met kakiebos, is ’n uitstekende insekweerder.
• Sit droë salieblare in jou kaste om insekte uit te hou.
• Prakseer ’n doeltreffende inseksproei uit vlierblaaraftreksel.
• Hang sakkies droë koorskruid in jou kaste.
• Maak ’n insekweerder van kappertjiesaadaftreksel.
• Kneus marjoleinblare om insekte af te weer.
• Gooi takkies roosmaryn op die kaggel of braaivleisvuur.
• Maak ’n inseksproei van ’n gekneusde knoffelhuisie, ’n klein, gekapte ui, 1,25 liter water en 12,5 ml skottelgoedseep. Laat ’n uur lank trek voor gebruik.
• Plant sitronellamalvas, laventel en salie, of inderdaad enige plant met ’n skerp geur.

.

Sunday, 24 November 2013

Dankbaar vir droomdae...

"Albasini-dam" waterverf op Bockingford 300gsm 

Herinneringe kan niemand ooit van ’n mens wegvat nie. Uit die oorvloed herinneringe wat elke mens in sy hart ronddra, put ons daagliks baie plesier. Klein onthoudingetjies van geliefde persone wat nie meer by ons is nie is soos helderbont krale in ’n halssnoer en ons dra dié onsigbare halssnoere daagliks met ons saam. 

Ek is in Johannesburg gebore en was in Gr.I en II in Gauteng op skool. Toe het ons Pietersburg toe getrek waar ek St. I & II geslaag het. Ek moes seker toe so nege of tien jaar oud gewees het. Ons het in Pleinstraat gewoon – dis hier waar my liefde vir diere en die natuur begin het. 

My pa het dikwels huistoe gekom met een of ander diertjie: ’n trapsuutjie, ’n meerkat, selfs slange, krimpvarkies, beseerde voëltjies, wilde katjies. Eenkeer het hy selfs ’n pasgebore witstinkmuishond wie se ma deur ’n kar doodgetrap is, aangedra huistoe. Dan het ek die arme diertjies opgepas en met my pa se hulp weer gesond gekry (meestal met die hulp van boererate) en weer in die natuur vrygelaat. 

Nie alle reddingspogings was altyd ewe geslaagd nie. Ek onthou toe ’n krimpvarkie wat ek vir drie weke liefdevol gedokter het (die honde het hom bygekom en sy hele neus en mondjie afgekou) tog nie oorleef het nie en my pa my tussen my snikke deur getroos het. Hy het gesê het dat die natuur wreed kan wees maar dat dit ’n feit is wat ons maar altyd moet onthou. Ons moet maar net ons bes doen. Daarna was daar nog altyd hartseer wanneer ons ’n diertjie verloor het, maar ook aanvaarding en berusting dat sulke dinge wel gebeur. Hy het my ook geleer dat mens nie onnodig met die natuur moet inmeng nie en, waar moontlik, dinge aan Moeder Natuur moet oorlaat. 

Ek het baie saam met hom rondgery en dan het ons gaan visvang. My ma het vir ons ‘n heerlike mandjie vol lekkernye gepak – vars, tuisgebakte brood, koue aartappels met hulle skille aan, gekookte eiers, frikkadelle en ’n fles vol heerlike koffie. My pa het die babers wat ons gevang het skoongemaak en in groot ronde ’steaks’ gesny en op die kampvuur gebraai, ’n heerlikheid! 

Albisinidam was een van ons gunstelingplekke. Ons het altyd baie seekoeie daar gesien en kon ek na stories luister van wat hierdie dier so spesiaal en gevaarlik maak soos die feit dat hulle ons waterweë skoon en oop hou en vloei verseker vir al die ander diere. My pa het altyd gesê ’n seekoei in ’n slegte bui is gevaarliker as ’n renoster! Ek onthou nog so goed die storie wat my pa ons vertel het oor hoe hy en sy maats gaan visvang het en een nag bo-op die bakkie se dak moes deurbring a.g.v. ’n onvergenoegde seekoei wat net niks van die kampvuur gehou het nie! 

Langs dié waters het ek my eerste sketse begin doen terwyl ons gesit en visstokke dophou het – my pa het altyd blomme, blare en takke gepluk. Hy het ’n wonderlike kennis van plante en die veld gehad. Ek het al sy stories daaraan verbonde: waarvoor dit gebruik is deur die Pedi’s, vir watter siektes en ongesteldhede, met groot belanbgstelling aangehoor. Dan het ek nota’s gemaak en sketse gedoen. 

Ons het ook insekte opgespoor: sprinkane, miere, skerpioene, motte en spinnekoppe. Dis toe dat ek geleer het om nie bang of grillerig te wees nie, want as jy iets moes vang moes dit VINNIG gebeur, anders is die oomblik verlore!

 
Twee Oranje-geverfde Kremetart-peule langs 'n ou stomp en 'n versameling spoelklippe

Op ons uitstappies het ons altyd halt geroep by kremetartbome en die kremetarte bymekaar gemaak om huistoe te vat. Ons het ook maroelas bymekaar gemaak en haastig in die kar gespring wanneer die bobbejane opdaag om hierdie lekkernye te kom geniet. Ons het vir ure in die kar gesit en lag oor hulle mannewales – die oorryp vrugte wat begin gis het, het ’n alkoholiese uitwerking op hulle gehad en dan het hulle rondgeslinger soos wafferse dronk mense! 

 My Ma het konfyt gekook van die maroelas. Ek het NIKS daarvan gehou nie! Maar ons MOES ’n paar teelepels vol eet, dis goed vir ons het my pa altyd gesê… en om die smaak van die kasterolie, wat ons elke Vrydagaand moes drink, weg te vat. 

Ons het ’n kanariehok gehad in Pietersburg met die pragtigste kanaries – geles, pienkes, rooies (dié kleure is verkry deur iets wat by die drinkwater gevoeg word) en party met wilde haarstyle, vere wat penregop op die kop gestaan het of plat gedruk was soos ’n pannekoek! Een van die dinge wat my pa die meeste ontstel het was die miere! ROOImiere wat teen die hok opgeklim het en die pasgebore voëltjies aangeval en doodgemaak het. Die hok het op stelte gestaan. ’n Boer maak ’n plan – konfytblikke gevul met water onder elke poot en siedaar! Geen mier kon meer die voëltjies bykom nie! 

Ons buite-yskas was ’n houtkas met dubbeldraad, gevul met steenkool en waardeur water permanent gevloei het. Dit het ons eiers, melk, botter en ander eetware perfek koel en vars gehou. Dié yskas het ek en my pa self gebou en dit het my geleer dat NIKS onmoontlik is nie – waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. 

Ons het ook ’n groentetuintjie gehad en ons kon ure daar deurbring – slaaikoppe, kool, wortels, tamaties, groenboontjies, uie, beet en ertjies, selfs ’n paar blommetjies soos Kappertjies en Afrikaners. My pa het geglo dit hou die goggas weg. Hy het my geleer dat gifstowwe onnodig is en dat alle hulpmiddels in die natuur te vinde is. En my ma kon tóór met daardie groente! Tot vandag is groenboontjies met uie en aartappels een van my geliefkoosde disse. 

As iemand my sou vra of ek my lewe sou wou oorhê, sal ek beslis ‘ja’ sê, veral daardie wonderlike dae in die Noord-Transvaal en die dankbaarheid wat ek in my hart voel vir die oorvloed herinneringe wat dit my besorg het.

::

Thursday, 21 November 2013

Bloedrooi die aalwyn in winter


Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!


::

Wednesday, 13 November 2013

Vriendelike Geel





‘n Roos is nie net ‘n roos nie. ‘n Roos is blom met betekenis. Die kleur het betekenis wat dikwels onderskat word. Voordat jy vir iemand rose koop, dink mooi oor hoekom jy die rose wil gee en kies daarvolgens ‘n kleur. Dit gee soveel meer waarde aan die geskenk. Dit is die gedagte wat tel, maar ‘n gedagte wat goed deurdenk is beteken soveel meer.

Geel rose het in Victoriaanse tyd jaloesie bedoel, maar vandag beteken geel “Ek gee om”, maar geel rose word ook soms gegee as simpatie.

Die verskillende kleure waarin rose voorkom, het almal simboliese betekenisse:

geel – vriendskap, platoniese liefde, simpatie
rooi – romantiese liefde
pienk – grasie
donkerpienk – dankbaarheid
ligpienk – bewondering, simpatie
wit – onskuld, geheimsinnigheid
oranje – passie
dieprooi – skoonheid
blou – misterie, betowering

::
 

Vulpenwoorde


In regte vulpenwoorde
op vlaktes wit papier
lê ek gedagtes neer: vertel van nou en hier
soos pienk papaja in my mond, 
rol ek die woorde om en om, 
adres eers in die regterhoek
vir ingeval jy my dalk elders
op ver of vreemde plekke soek
my hand strelend oor die wit
vroegoggend het ek wéér vir ons gebid
en toe dié wit brief, 
seëlgeplak en oerbekend, 
so duifsag in jou palm lê, 
het jy alreeds geweet
wat ek so bittergraag vir jou wou sê? 
want met die oopskeur saam
ruik jy mos my naam
en ou vreugdes tuimel
nogmaals oor jou binnemens
hoe soet proe tog 
dié blywees van ons mooiste wens! 
- Pragtige woorde uit die pen van Elizabeth Kendall© op een van my waterverfskilderye 

::

Saturday, 9 November 2013

Celebrate every moment

Our time on this earth is sacred, and we should celebrate every moment. 

:: 

We cook and complain that it's a waste of time, when we should be pouring our love into making that food.  

:: 

We work and believe it's a divine curse, when we should be using our skills to bring pleasure and to spread the energy of the Mother. 

:: 


:: 

Honest-to-goodness South African home-made Apricot Jam! Made by my dear friend Elizabeth  


::


:: 

Camera Kodak EasyShare C195

::

 

Wat beplan jy vandag?


Somer is hier en alles vra gelyktydig vir aandag!

Die tuin is dors, Torti (my Bergskilpad) het ontwaak vanuit haar winterslaap en vra om gevoed te word (sy’s nog steeds hier by my nadat ons haar van iemand se pot gered het en elke jaar belowe ek dat, wanneer die somer kom, gaan ek haar vrylaat maar elke winter, as ons al die vreeslike veldbrande beleef, dan word dit weer afgestel…)

Na 2 maande se hibernasie is Torti ook reg om die somer aan te pak. 


Al die hoenders is gelyktydig broeis! Dis ‘n groot job om elke dag eiers weg te vat want nog meer skroppende pootjes in die tuin soek ek definitief nie en dan is dit geduldig wag terwyl elke hennetje, eierloos, haar 19 dae uitsit.

Dis pure plesier om baadjie uit te trek, tekkies te verruil vir sandale en weer ‘n tuinslang in die hande te kry. Al die ou en dooie goed is alreeds afgesny en uitgehaal, beddings is mooi gemaak, paadjies is opgeknap en die tuin soek nou bietjie nuwe plantjies, nuwe geselskap, na maande se rus.


En om nie eers te praat van MYSELF nie, my eie liggaam – my hande voel skurf en verwaarloos, my arms en bene soek bietjie sonskyn (vanjaar is die jaar dat ek ‘n mooi kortbroek aanskaf! Op 66 is daar mos nie meer sprake van omgee wat ander mense dink nie, jy’t mos lankal lief geraak vir jouself en jouself aanvaar nes jy is! As ons maar tog net dit kon leer terwyl ons 20 of 30 of 40 was in plaas van om ‘ droom van ‘perfeksie’ na te jaag…)


So, wat beplan jy vandag? Ek sal êrens buite wees, besig om die son te geniet…

.

.

Saturday, 2 November 2013

Vandag voel ek so...


... glad nie lus om uit my gemaksone te klim nie. Vandag voel ek net lus om hier in my gemaklike plekkie te sit, te sit en rus en net alles om my waar te neem.

Vandag was ek veronderstel om te werk. Met werk bedoel ek opvang met al daai uitstaande goedjies wat so 'nag' in die agtergrond - liassering, goeters reg pak, my ateljee wat só deurmekaar is bietjie opknap, die UIF doen, al die e-posse antwoord, nuwe gras in die hoenders se nesbokse sit en dalk ook 'n bietjie in die tuin rond te krap.

Maar hier sit ek nou, besig om te skilder en ook hier op my blog te pos. Dinge te doen waarmee ek gemaklik en gelukkig voel. My pa het twee gesegdes gehad, "Moenie afstel vir môre wat jy vandag kan doen nie" en ook "Môre is nog 'n dag." Vandag voel ek so - môre is nog 'n dag.

::
 

Saturday, 26 October 2013

Weggooi-goed

'n Paar van my ou skilder verfborsels op 'n rak in my ateljee - uitgedroog en hopeloos verby!

Kan jy ook nie goed weggooi nie?

Ekhet rakke en rakke en bokse en bottels en roomysbakke en tasse vol goed! So elke nou en dan voel ek oorweldig dan is daar 'n poging om van dit ontslae te raak, maar gewoonlik nie baie suksesvol nie.

Maar 'n plus daaromtrent is dat ek mooi goed ontdek waarvan ek vergeet het en dan bring ek dit uit en her-rangskik alles in die huis weer 'n bietjie. Dan gaan die 'nuwe' goed ou-bokse toe, tot volgende keer.


Nou die dag het ek 'n klomp skulpe in 'n boks raak geloop, van dae toe ek nog skulpe bymekaar gemaak het. Ek het die mooistes uitgesoek en die res is tuin en blombakke toe - ek kon dit nie weggooi nie!



Dis dieselfde storie met vere. Hulle sê mos 'moet nooit verby 'n veer loop sonder om dit op te tel nie'. Wel, dis wat ek doen, tel al wat 'n (mooi) veer is op. Ek gebruik baie daarvan wanneer ek juweliersware maak, maar die res is in bokse en bottels en ook 'n laai of twee!


'n Halssnoer met 'n veer

Ander goed wat ek nie kan weggooi nie is bokse, stukke hout, bottels en draad. Dis nie lank nadat ek dit weg geggooi het nie dat ek iets wil bou en dan is ek op soek na dit! So nou sal alles maar net bly waar dit is totdat ek dit eendag nie meer kan vat nie en 'n groot skoonmaak weer begin!

'n Hoekie in my "garden shed" vol "nodige" goed 

::
 

Friday, 18 October 2013

Pienk en pers verwondering


My Krismisroosblomme het verbete geklou dwarsdeur die winter maar nou is die bosse definitief op hul laaste. Ek het die laaste paar blomme gepluk, in bietjie water gesit, nog ander opgehang om droog te word en 'n paar in 'n mandjie gepak om ook droog te word.


Al ooit gesit en wonder hoe kry jy die blomkleure van krismisrose na jou sin (pienk of blou)? Die kenners sê blom kleur word beinvloed deur die grond:

1) Suurgrond gee donkerblou blomme - Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Blue toe te dien of eierdoppe in die grond te werk.

2) Alkaliese grond gee pienk/rooi blomme - Dit kan aangehelp word deur Shake and Grow Pink of landboukalk toe te dien. Onthou net dat die grond toestand nie “oornag” verander kan word nie, so begin dus reeds in die winter maande met jou toediening. (Wit blomme se kleur kan nie verander word na pienk of blou nie.)

Maar nou verstaan ek nie hoe is dit dan dat ek beide pienk en pers blomme aan een bos het nie!


::

Wednesday, 16 October 2013

Graspolle in die son


:: Heerlike somersdag hier in Gauteng :: 

:: warm, met helder blou hemel en heerlike sonskyn :: 

:: graspolle in die son :: 

:: rivierklippe gestrooi soos konfetti :: 

:: voëltjies fluit vrolik :: 

dankbaar vir hierdie dag

::

Tuesday, 15 October 2013

Vintages - A niche to dream in

"Plain shelves filled with good editions in good bindings are more truly decorative than ornate bookcases lined with tawdry books."
- Edith Wharton, 1902



Adults love inviting nooks just as children do; such spaces seem protective, made for the imagination. A place apart, where you can gather notes, thoughts and plans. It's simply the idea of a silence in one's self that allows one to think or to feel. Creating a corner where that silence can happen - even in the busiest of households - calls for beauty like the shelf above.

Setting up a reading nook or dreaming niche for yourself is as exciting as building a new house! Lovingly storing your favourite books and stationery in one place where you can relax with a cup of coffee, snuggling under a warm throw, is one of life's blissful pleasures.

Reading is one of the great pleasures of life and an important part of nurturing our soul, gaining knowledge and finding pleasure in fiction. As such, we must make special time for ourselves to pursue our pleasures and make it high on our list of priorities.

Whether you are lucky enough to have a library filled with books and comfortable couches or choose to use a bay window area, filled with light, or a special corner in your bedroom, your reading nook will be YOUR private hide-out where no-one is allowed in except by invitation.



Your first consideration should be a comfortable chair or chaise lounge embellished with all the luxuries like cushions and throws. A coffee or side table will come in handy for a reading lamp, tea pot, some fresh flowers, reading glasses and some extra books.

Incorporating some shelves or a bookshelf for storage of your books and favourite collections is next on the list. Be creative and innovative with your bookshelf - fill blank spaces on the shelves with candles (in case the electricity goes off!) and some of your favourite photo frames. Fill a vintage jug with some pens and pencils for making notes and have a dictionary at hand for reference.

Some extras like a footstool and magazine rack always come in handy and a soft rug underfoot adds a luxurious touch. Also give some attention to the wall colour - find a soothing theme and hang some of your favourite paintings and artwork as a finishing touch.

A corner in the living room used as a reading nook.

A bookshelf and a comfortable chair on one side of the dining room denotes this as someone's dream corner.

Storage for some favourite books

A perfect reading nook
- image from decor8

So settle in with a creamy cup of coffee, your favourite book or your daily journal and enjoy the simple pleasures of life - don't get to the end of your life and find that you have just lived the length of it. You want to have lived the width of it as well.

.